Aangename kennis Antibiotika
- Dr SL du Plessis
- Aug 17, 2022
- 3 min read
Om en by 3 000 jaar gelede, in antieke Egipte, het iemand besluit dat siektes veroorsaak word deur n bietjie slegte bloed. Die praktyk van ‘bloodletting’ of bloedlating het toe ontstaan. As jy een oggend sou wakker word met ‘n hoes, kon jy na jou plaaslike geneesheer gaan waar hulle met skerpgemaakte stukkies hout of klip ‘n bloedvat sou oopsny om ‘n paar liter bloed vir jou af te tap.

In Europa kon jy dit tydens die 17de en 18de eeu sommer by jou naaste haarkapper laat doen. Die eerste president van Amerika, George Washington, was een van die bekendstes wat onder die tegniek deurgeloop het. Hy is oorlede in Desember 1799 slegs n paar uur na sowat 40% van sy bloedvolume getap is in n poging om hom te genees.
Die antieke Egiptenare was darem nie heeltemal die kluts kwyt nie, want een van hulle ander mediese gebruike was om gemufde brood op wonde te sit. ‘n Paar jaar later in 1928 het Alexander Flemming per ongeluk ‘n bakkie bakterieë oop gelos tydens ‘n eksperiment en amptelik bewys dat muf oftewel ‘n fungus die vermoë het om bakterieë dood te maak. So het antibiotika ontstaan in die vorm van Flemming se ‘Fungus sap.’
Gelukkig het die mediese wetenskap ver gevorder sedert daardie tyd en vandag kan ons met dankbaarheid kyk na ‘n pakkie pille wat meer effektief en sosiaal aanvaarbaar is as die gebruike van antieke Egipte. Nou wat het ons werklik geleer rondom infeksies in die laaste 200/300 jaar?
Infeksies word veroorsaak deur verskeie organismes. In leketaal praat ons sommer van kieme of goggas, maar in die mediese wêreld het ons te doen met bakterieë, virusse, parasiete of fungi. Bakterieë en virusse is verantwoordelik vir die meeste siektes en alhoewel die simptome baie oorvleuel, is daar belangrike redes hoekom die twee nie oor dieselfde kam geskeer kan word nie.

Virusse:
Virusse is baie klein, nie-lewende organismes. Hulle bestaan uit ‘n DNA kern wat omring is deur n eenvoudige proteïen lagie. Virusse kan nie op hul eie voortbestaan nie en het ‘n gasheer sel (m.a.w. jý) nodig om te oorleef en voort te plant. Daar is meer as 200 virusse wat n mens kan siek maak waarvan Rhinovirus die mees algemene sondebok is. Soos ons gesien het tydens die onlangse COVID -pandemie is virusse uiters aansteeklik en simptome duur gewoonlik tussen 5 tot 7 dae. In ernstiger infeksies kan dit tot 2 weke neem om volledig op te klaar. Virusse vooroorsaak selde siektes wat ernstig genoeg is om gehospitaliseer te word tensy daar ’n ko-infeksie met ‘n bakterieë is. Die beste behandeling vir virus infeksies is voorkomende inentings. Verder kan die simptome behandel word om die pasiënt gemakliker te maak terwyl hy siek is, maar daar is geen effektiewe geneesmiddel vir algemene virusse nie. Antivirale medikasie word tans nog ondersoek en ontwikkel.
Bakterieë
Bakterieë is groter en meer komplekse, lewende organismes. Hulle word omring deur kapsules wat bestaan uit koolhidrate en aminosure en kan op hul eie bly voortbestaan en vermeerder. Anti-bakteriële medikasie word antibiotika genoem. Elke ‘familie’ van bakterieë het ander eienskappe en dus het hulle verskillende tipes antibiotika nodig om hulle dood te maak.
Anders as virusse kan bakterieë ook goed wees. Hulle vorm deel van die liggaam se natuurlike flora en help met verskeie liggaamsfunksies. In die maag help hulle met spysvertering, dermmobiliteit en selfs produsering van vitamienes. Waar daar ‘n gesonde hoeveelheid natuurlike flora floreer is daar nie genoeg kos en spasie vir ander indringer organismes om te groei nie en so voorkom dit infeksies.

Antibiotika:
Soos bo genoem is ‘n ander woord vir Antibiotika eintlik anti-bakteriële medikasie. Weens die verskillende molekulêre samestellings het antibiotika geen effek op virusse nie.
Soos enige medikasie het antibiotika ook newe effekte. Die hoof newe effek op die mens is dat dit die gesonde bakterieë in jou liggaam ook doodmaak. Dit is hoekom baie mense sukkel met n los maag wanneer hulle op antibiotika is. By verre die grooste gevaar van ontoepaslike antibiotika gebruik, is antibiotika weerstandigheid. Bakteriële organismes is kompleks genoeg dat hulle evolusie kan toepas om hulself sterker te maak in die omgewing waar hulle wil woon. Volgens ‘n studie deur die CDC was daar in 2019 reeds in Amerika 35 000 mense dood as gevolg van bakteriële infeksies waar die bakterie so gemuteer het dat geen bestaande antibiotika daarteen effektief was nie.
Die kort maar kragtige boodskap om te onthou is dus: Antibiotika is nie die antwoord vir elke loopneus nie. So graag as wat ons ‘n ‘one size fits all’ antwoord wil hê, is ons besig om onsself in die voet te skiet. As ons nie meer verantwoordelik begin optree met medikasie, en veral antibiotika, nie, is bloedlatings en gemufde brood dalk ons voorland.
- Dr SL du Plessis
Comentários